AARON R. KAYAYAN (1928-2008)

Ds. A.R. Kayayan is op 24 Januarie 1928 in ‘n voorstad van Athene, Griekeland gebore. Hy was die derde kind van Armeense oorlewendes van die volksmoord wat tussen 1915 en 1922 deur die Ottomaan Turke teen die Armeniërs gepleeg is.

Hierdie tragiese gebeure was die oorsaak dat sy pa sy eie teologiese studies by ‘n Amerikaanse Protestantse seminarie in Turkye moes onderbreek, toe elf familielede aan vader- en moederskant brutaal vermoor is.

Die jong Aaron het in ‘n Christengesin grootgeword en reeds op vyfjarige ouderdom die roeping gevoel om ‘n sendeling te word, soos hy later aan sy gesin meegedeel het.

Die tweede Wêreldoorlog en die beleg van Griekeland deur die Duitse leër het later Aaron se hoërskoolstudies onderbreek, met die gevolg dat hy nooit behoorlike skool-opleiding gekry het nie, ten spyte van sy intellektuele vermoëns en onversadigbare leeslus. As ‘n tiener is hy op ‘n keer deur ondersteuners van die Duitsers byna doodgeskiet toe hulle hom as ‘n Engelse informant verkeerdelik gesien het.

Kort na die oorlog het ‘n Kommunistiese oorname in die noorde van Griekeland, (waarheen die Kayayan gesin tydens die oorlog gevlug het weens die heersende hongersnood), sy lewe verder uiteengeskeur en sy hoop op gewone skoolonderrig verpletter.

Eers teen 1950 het hy daarin geslaag om ‘n hoërskooldiploma te ontvang. Intussen het hy ook op sy eie Engels en Frans onder die knie gekry. Hy kon toe by ‘n Evangeliese Bybel-instituut naby Lausanne, die Franssprekende deel van Switserland, inskryf. Hier het hy ‘n driejaarkursus voltooi, asook ‘n jaarkursus by ‘n Protestantse seminarie in Zürich. In Lausanne het hy vir Carmen Garrofe ontmoet, wat later sy getroue lewensmaat en medewerker sou word. Sy was ‘n nooi uit Katalonië, in die noord-ooste van Spanje, wat ook by die Bybel-instituut kom studeer het. Hulle is in 1956 getroud, waarna hulle hul teologiese studies aan die Vrye Fakulteit van Gereformeerde Teologie in Aix-en-Provence, naby Marseille, Frankryk, voortgesit het.

By Aix het hulle deur Hollandse dosente kennis gemaak met die werke van Johannes Calvyn wat op hulle ‘n sterk indruk gemaak het: onder hierdie invloed het hulle die Gereformeerde leer aanvaar en daarby gehou.

Na ‘n kort bedieningstyd onder Armeense vlugtelinge in ‘n voorstad van Marseille, het ds. Kayayan onder verskeie gemeentes in die suide van Frankryk gewerk – eers in die Pireneë en later in die Rhône valley. Tydens hierdie jare is hulle twee seuns gebore (onderskeidelik in 1958 en 1960). In 1966 ontvang ds Aaron ‘n beroep na Parys toe en die gesin trek soon toe (hul dogter is later in Parys gebore). Ds Aaron was tussen 1966 and 1976 predikant van die Gereformeede Kerk Parys-Belleville. In hierdie tyd was hy aktief betrokke by ‘n Reformatoriese vernuwingsbeweging in Frankryk, te midde van groeiende liberalisme in die Franse Protestantisme. Hy het kontak gemaak met ‘n verskeidenheid oorsese Gereformeerdes, waaronder Amerikaners, Nederlanders en Suid-Afrikaners. Hy het ook verskeie internasionale Reformatoriese konferensies bygewoon (soos dié oor Christelike onderwys wat in 1975 deur die destydse P.U. vir C.H.O. aangebied is: wyle prof. J.C. Coetzee het hom spesiaal in Parys gaan uitnooi as een van die Franse afgevaardigdes).

In 1969 is hy deur die Noord-Amerikaanse sending-organisasie, “The Back to God Hour” (BTGH) genader om radio-uitsendings na Quebec, die Franssprekende provinsie van Kanada, te behartig. In 1976 het die BTGH, onder toesig van die Christelike Gereformeerde Kerk in Noord-Amerika (CRCNA), hom gevra om voltyds die Franse uitsaaier te word. Ds. Kayayan het die beroep aanvaar vanuit Parys, waar hy en sy familie toe aangebly het.

Die Franse radiobediening het eers oor die hele Frankryk versprei en later toenemend via kortgolfradio na die Franssprekende lande in Afrika. Laasgenoemde is moontlik gemaak deur die ondersteuning van die NG Kerk in Suid-Afrika.

Internasionale Christen radio-organisasies soos TransWorld Radio, FEBA Radio and Radio Elwa, het getroue vennote geword van Perspectives Réformées, soos die Franse radiobediening van die BTGH bekend was. Die Evangelie is deur verskeie radiostasies in Sentraal-, Wes- en Oos-Afrika uitgesaai. Literatuur is deur ds Aaron op gereelde grondslag geskryf en aan pastore, ouderlinge, evangeliste en alle gelowiges deur die Kayayan egpaar beskikbaar gestel, om hulle as Christene toe te rus.

Aaron Kayayan het talle besoeke aan Afrika gebring, veral in die voormalige Zaïre, die huidige Demokratiese Republiek van die Kongo. In 1982 het die egpaar en hul dogter Frankryk verlaat en hulle in die VSA gaan vestig as lede van die BTGH -span in Chicago. Korrespondensie met en besoeke aan die luisteraars van hulle radio-uitsendings in Afrika het toegeneem. Hulle het met die produksie van TV-programme begin, wat ook uitgebrei het. Een van die vrugte van hierdie volgehoue en versiende aksies was die stigting van die Reformed Confessing Church in Zaïre in 1984, met die ondersteuning van die Reformed Church in the United States (RCUS). Daar is ook ander Gereformeerde kerke in Franssprekende Afrika gestig, veral in Benin en Togo. Later is ‘n paar voornemende Kongolese predikante deur ds Kayayan eers na Hammanskraal, dan na Potchefstroom toegestuur om teologie te kom studeer. Dit was die begin van die bande tussen die GKSA en die Kongo.

Na sy emeritasie in 1992 in die ouderdom van 64 jaar, het ds. Aaron Kayayan vir die eerste keer sy volksgenote in Armenië gaan besoek. Vanuit die VSA het hy ‘n evangelisasie-bediening in sy moedertaal begin: Havadk Yev Guiank (in Engels bekend as Christians for Armenia). In noue samewerking met getroue en ywerige medewerkers in Gyumri, die tweede grootste stad in die Republiek van Armenië, en met die ondersteuning van ‘n interkerklike komitee van die VSA, is heelwat radio-uitsendings op die lug geplaas. Publikasies is gereeld in Armenië self uitgegee en versprei. ‘n Kwartaallikse tydskrif van kwaliteit wat godsdienstige en kulturele temas hanteer (waarvan hy die redaktor was) geniet plaaslik baie aandag. Tussen 1993 en 2005 het ds Aaron heelwat besoeke aan Armenië onderneem.

Tot op 80-jarige ouderdom en ten spyte van toenemende gesondheidsprobleme, het Aaron Kayayan verbete aanhou werk om die Gereformeerde geloof in die land van sy voorvaders te versprei. Sy vertaling van die Nuwe Testament in die Armeense taal, ‘n beknopte Bybelse ensiklopedie asook ‘n inleiding tot die werke van Calvyn wag nog om die lig te sien.

Vir hierdie intense aktiwiteit het hy erkenning gekry van talle Armeniërs (ook vanuit die diaspora in Kaukasië en Rusland). ‘n Telegram van meelewing van die vorige President van die Armeense Republiek met sy begrafnis, getuig hiervan.

Ds Kayayan se lewe is gekenmerk deur ‘n brandende passie om die Evangelie van God se Koninkryk te verkondig aan diegene wat dit nie ken nie. Hy was uitermate gedrewe met ‘n dringendheid om dit te doen so lank as wat hy moontlik kon.

Op 12 Mei 2008 het ds Aaron Kayayan na sy Hemelse woning gegaan, na ‘n lewerversaking wat veroorsaak is deur ‘n hepatitis virusinfeksie wat hy sowat 30 jaar gelede tydens een van sy besoeke aan die Kongo opgedoen het. Hy word oorleef deur sy vrou, drie kinders, asook ‘n suster en verskeie kleinkinders.

Hy is in die Winchester begraafplaas in Grand Rapids, Michigan, begrawe.

SOLI DEO GLORIA

      OUR MINISTRY'S HISTORY      
AK-1a-24

Ds. A.R. Kayayan het tot die Gereformeerde geloof gekom deur die skrywe van Johannes Calvyn wat hy tydens sy studies by die Gereformeerde Teologiese fakulteit van Aix-en- Provence (Frankryk) ontdek het.

Ds. A.R. Kayayan tydens n radio opname vir Perspectives Réformées.

ak3a-2
ck1a

Carmen Kayayan het die stuur van boeke en ander geskrewe materiaal aan Perspectives Réformées se luisteraars gereël. Sy het ook baie briewe van Afrika vroue persoonlik geantwoord en was betrokke by die produksie van TV programme.

HELP US RAISE MONEY
DONATE NOW